vrae en antwoorde

Algemene Vrae

  1. Hoe doen ek aansoek om by Laerskool of Hoërskool Raslouw in te skakel?
    Die eerste stap is om die voorgeskrewe aansoekvorm by die skool te verkry, of van die webblad af te laai of dit aan te vra deur ‘n e-pos na navrae@raslouwskool.co.za te stuur. Die vorm word dan ingevul en met die R100 aansoekfooi by die skool ingehandig (of in vakansietye by die administratiewe kantore; bel 012-664-2300 of e-pos navrae@raslouwskool.co.za). Dit gaan na die direksie wat die aansoek hanteer en met u sal kontak maak. Die belangrikste stappe word ook bo-aan die aansoekvorm beskryf.
  2. Kan my kind in die middel van die skooljaar inskryf?  Ja, hoe gouer leerlinge in die skool inkom, hoe vinniger geniet hulle die voordele van die skool se sterk vakonderwys aanbieding. Die gaping tussen hierdie aanbieding en die staat- en staatsverwante aanbiedings word al hoe groter.
  3. Vrae en antwoorde tydens die opedag van 29 Mei 2010.
  4. Watter grade bied Laerskool Raslouw aan?
    Van Graad 0 tot Graad 6 word aangebied (Graad 7 is by ons reeds die begin van hoërskool). In 2009 is daar ook ‘n selfstandige kleuterklas (voor Graad 0) bygevoeg, wat kinders van 3 tot 5 jaar oud bedien. Die kleuterklas het twee voltydse onderwysers en die groei daarvan word net deur klasruimte beperk. Dit word DV vanaf 2011 ‘n selfstandige diens op ‘n eie terrein.
  5. Watter grade bied Hoërskool Raslouw aan?
    Van Graad 7 tot Graad 11 word tans (2010) aangebied. Dit groei generies na Graad 12 vanaf 2011.
  6. Is daar ‘n naskooldiens?
    Daar is ‘n naskooldiens onder leiding van ‘n gekwalifiseerde onderwyseres, wat vandat die skool uitkom tot 17:15nm elke skooldag aan diens is. Dit word as studietyd en speeltye gestruktureer sodat beide huiswerk en ontspanning aandag kry. Verversings (nie volle etes nie) word verskaf.
  7. Hoekom is daar nog ‘n privaatskool nodig as daar verskeie staatskole en ander privaatskole in Centurion beskikbaar is?
    Die Raslouw skole is die enigste skool wat vakonderwys aanbied sonder beïnvloeding van Kurrikulum 2005 en UGO. Selfs die sogenaamde onafhanklike eksamenrade soos IEB en OAER is ondergeskik aan Umalusi en die raamwerk van Kurrikulum 2005 en noodwendig is die skole wat dit volg, ondergeskik aan Kurrikulum 2005 en UGO voorskrifte. By Laerskool Raslouw is daar is sedert 2000 gebou aan die behoud maar ook modernisering van gesonde vakonderwys, wat vakke suiwer hou en nie deur die leerareas van Kurrikulum 2005 deurmekaargekrap is nie. Dit beteken dat ‘n ongekontamineerde lees-skryf-rekenonderwys aangebied word, en dat die onderrigmetode duidelike vorderingslyne in die bemeestering van elke vak behels (kyk die kurrikulumstelling), en nie deur pogings om dit ondergeskik aan gemeenskaplike temas te maak, afgewater word nie. Ons bied leermeester-leerling onderwys aan, en nie die soort onderwys-deur-take se benadering van selfontdekking nie. Dit bied leerlinge ‘n stewige onderwys aan wat hulle help om by te hou by die versnelling in die inligtingsera. Die Raslouw skole se produk is onderwys, en die gehalte van die produk is ononderhandelbaar.
  8. Wie besit die skool?
     Die skool word besit deur Raslouw Onderwys (Edms) Bpk, ‘n volfiliaal van Indicato.

Implementering van Cambridge-eindeksamen

  1. Hoe word die fases ingedeel?
    • Graad 7 by hoërskool as oorgangsjaar.
    • Graad 8, 9 en 10 vorm ‘n eenheid tot op IGCSE-eksamenvlak.
    • Graad 11 en 12 lei tot die AS (“Advanced Subsidiary”), wat met 50% of hoër prestasie in vyf vakke (net vyf is verpligtend) tot universiteitstoelating lei, en noodwendig vir ander tersiêre opleiding voldoende is.
    • Huidige leerlinge in Graad 7-10 sal geleidelike implementering van Cambridge ervaar.
  2. Op watter standaard is die werk?
    • Die werk is nie wesentlik moeiliker as wat ons self op goeie standaard van skool as St 8 en St 10 geken het nie. Daar is wel skuiwe in lyn met algemene tendense waar sekere werk wat vroeër eers in Gr 11 behandel is, nou in die IGCSE voorkom ens.
  3. Vir watter vakke word voorsiening gemaak?
    • Hoe groter leerlinggetalle is, hoe bereikbaarder word die aanbied van ‘n wyer vakkeuse.
    • Cambridge bied eksaminering in ‘n baie omvangryke aantal vakke, insluitende Afrikaans.
    • Ons sal nie hulle geskiedenis of godsdiens vakke aanbied nie, maar dis ook nie nodig nie.
    • Ons gaan wel met Bybel voort op dieselfde wyse as tans, en met eie geskiedenisaanbieding tot Graad 9.
  4. Hoeveel gaan dit kos?
    • Die basiese koste van £22 per vak werk uit op ongeveer R1 500 per leerling in vyf vakke, soos vereis word, en vergelyk goed met plaaslike matriekgelde.
    • Daar is ‘n jaarlikse fooi van ongeveer R32 000 wat die skool sal moet betaal om self as eksamensentrum op te tree en om toegang tot onderwyseropleiding en ander ondersteuningsdienste te hê. Dit vergelyk goed met gelde wat dit sal kos om by ander liggame soos IEB of die BCVO geaffiliëer te wees. (Laasgenoemde vra R50 per leerling per maand (bv 70 leerlinge x R50 = R3500 per maand of R42 000 per jaar)).
    • Daar is alternatiewe soos om deur ‘n ander Cambridge-sentrum in bv Krugersdorp die eksamen af te lê, met ‘n koste per leerling, maar wat solank ons getalle klein is, goedkoper kan wees as om self te registreer.
    • Kostes vir meer vakonderwysers, laboratorium, kluis, rekenaargeriewe en so aan moet aangegaan word as ons ‘n eindeksamen wil aanbied, ongeag of dit Cambridge- of Umalusi-gedrewe is. Cambridge se vereistes is billik.
  5. Van waar word die uitslae uitgereik?
    • Alle vraestelle word in Brittanje gemerk.
    • Geloofwaardige wêreldwye eenvormige standaard.
    • Universiteite aanvaar IGCSE (Graad 10) uitslae voorlopig vir keuring en toelating as uitslae vir “matriek” eers in Januarie uitkom (van Cambridge af).
    • Gesprekke met Alma Mater Akademie het bevestig dat leerlinge met Cambridge se uitslae en die reëlings wat met tersiêre instellings gemaak is, min probleme met keuring en inskrywings ervaar.
  6. Hoekom is internasionale erkenning van belang?
    • Die Suid-Afrikaanse matriekeksamens word binne Suid-Afrika skerp gekritiseer en buitelands word dit nie meer sonder verdere vereistes erken nie.
    • Die akademiese standaard en sedelike en veiligheidstoestande by Suid-Afrikaanse tersiêre instellings gaan vinnig agteruit. Dit is nie meer vanselfsprekend dat ons huidige leerlinge oor drie jaar en meer vorentoe sinvol daar sal kan studeer nie.
    • Ook vakopleiding (tegniese opleiding) raak skaars in Suid-Afrika; behalwe tegnies is daar ook ander beroepe soos verpleging en gasvryheidsbedryf waarvoor die opleiding nie noodwendig meer in Suid-Afrika goed aangebied word nie.
  7. Maar ons het dan in Afrikaans skool gegaan tot nou?
    • Die skool bly Afrikaans. Onderwysers is Afrikaanssprekend en die kulturele uitlewing bly Afrikaans.
    • Die laerskool bly volledig Afrikaans, tot in eksamens met die gebruiklike uitsondering om Engels op ‘n goeie standaard as vak aan te bied.
    • Graad 7 – 9 sal primêr in Afrikaans aangebied word, met bekendstelling aan Engelse vaktaal.
    • Graad 10 to 12 sal Engelse vaktaal gebruik terwyl die onderwyser sy diskresie sal uitoefen om as Afrikaansprekendes soveel Afrikaans as moontlik te gebruik om klas te gee en te verduidelik, terwyl die Engels vakterme en segswyses ook aangeleer moet word en eksaminering in Engels plaasvind om Cambridge se vraestelle te kan aflê. Die leerling het moedertaal toegang tot bv hulp met die wiskunde-probleem, maar moet ook opgelei word om dit in ‘n Engelse vraestel te kan hanteer.
    • Die bestaande Suid-Afrikaanse universiteite en ander tersiêre instellings ver-Engels, en selfs binnelands is dit waarskynlik dat ‘n deel of geheel van sulke opleiding vaardigheid in Engels gaan vereis.
    • Cambridge is nie ‘n einddoel nie, en dien as oorgang om die swak akademiese standaarde van die regeringsonderwys te vermy. Die onmiddelike volgende stap is om ‘n ware onafhanklike Afrikanerbeheerde Afrikaanse eindeksamen te ontwikkel en te vestig wat los van die regering ‘n eie status in die akademiese wêreld moet verwerf. Dit gaan lank neem en kan baat by wat uit die Cambridge-ervaring geleer kan word.
    • Die skool ver-Engels nie, maar die taalinvloed op akademiese vlak moet verstaan word soos wat die Cambridge-eksamens nader kom vir elke jaargroep.
  8. Wat word van ons Christelike-volkseie beginsels?
    • Die skool se grondslag en beginsels verander nie, behalwe vir die mate waarin akademiese noodsaak ons dwing tot Engelse eksaminering.
    • Ons moet ons kultuurbedrywighede en ons persoonlike ingesteldheid op Afrikanerwees rig.
    • Die Cambridge-eksamen voldoen beter aan die strewe na vrye onderwys as die voorskriftelikheid en ideologiese posisionering van die huidige staatsonderwys.
  9. Kan die stap moontlikhede bied om die skoolloopbaan te verkort?
    • Dit is moontlik om byvoorbeeld na Graad 10 met ‘n IGCSE van Cambridge skool te verlaat met ‘n sertifikaat wat reeds waarde het en dan met kollege-opleiding voort te gaan.
    • Leerlinge in die huidige klein getalle, kan moontlik hul pad na AS-vlak  versnel en bv. ‘n “matriek” behaal in wat effektief die Graad 11 – jaar sal wees. Dit sal egter wel stewige akademiese vermoë en harde werk vereis en word nie aanbeveel nie.