Windbuksskiet

Klubaktiwiteite: Hanlie Truter berig soos volg:

Tydens Wonderboom Klub se Luggeweer Veldteikenskiet Klubdag Saterdag, 14 Augustus 2010, het Laerskool Raslouw en Hoërskool Raslouw weer eens geskitter.

Van ons skool het Jane Pretorius, Pieter vd Dussen, Hennie Myburg, Mico Prinsloo, Adriaan Prinsloo en FC Truter deelgeneem.

Die Raslouw Woeries spog met die volgende medaljes:
Jane Pretorius – Goue medalje – ope afdeling 0/13
Adriaan Prinsloo – Brons medalje – ope afdeling 0/13

Hanru Pretorius het nie deelgeneem nie maar was soos altyd aktief betrokke en het gehelp met die tellings.

Soos ons die ouers van Laerskool Raslouw en Hoërskool Raslouw ken, was hulle daar om hulle kinders te ondersteun en saam deel te neem. Baie dankie aan Jaco Prinsloo, wat met gebreekte arm en al daar was en ook gehelp het met die tellings.

 

___________________________________
Saterdag 17 Julie 2010 – klubaktiwiteite:
Die Woeries en ander plaaslike klubdeelnemers het goed gevaar Saterdag tydens ‘n klubskiet te Voortrekkerhoogte Hoërskool wat deur die Pretoria Luggeweer Veldteikenklub aangebied is:

Daar was nege inskrywings van Woeries en ander van ons klublede: Jane Pretorius het die Dogters 0/13-afdeling gewen en Kobus Venter het 3de gekom in die Seuns 0/17-afdeling. (Hanlie Truter – kluborganiseerder).

___________________________________
Saterdag 10 Julie 2010 – klubaktiwiteite:

Die entoesiasme van Laerskool Raslouw se ouers en die “Wonderboom Veldteiken Klub” het ‘n klompie van ons leerlinge op 10 Julie 2010 op die LIW-skietbaan in Lyttelton bymekaargebring saam met klublede wat nie net kom demonstreer en afrig het nie, maar al hulle toerusting, insluitende die pragtige sportmodel windbukse (mens wil dit eerder windgewere noem) beskikbaar gemaak het.

Van klein tot groot (die hoërskool het ook kom saamkuier) het beurte gekry, is gewys hoe en gehelp en almal het dit geniet om aan die die veldteikenskiet bekendgestel te word. Van die Wonderboom-klublede het gewys hoe konstant akkuraat die geoefende mense kan skiet, en daar is planne gesmee om dalk ‘n klub hier in Verwoerdburg te begin. Selfs die pa’s en ma’s het hulle kans gekry om die teikens te probeer klits, en die gogga het gebyt.

Na die skietsessies is daar heerlik gekuier rondom die braaivleisvure, en die pot driepootpap het saam met Leonie-se-sous vinnig gesak.

Die geleentheid het in die vakansietyd ontstaan en toe die versoek gerig word, is daar van Raslouw Onderwys se kant af besluit om dit wel aan te pak: dis in die vakansie georganiseer en het bewys dat die skool se onderlinge kommunikasie werk sonder dat die skool noodwendig hoef oop te wees.

Sportredaksie

12 Julie 2010