SPORT![]() Sportbyeenkomste word saam met soortgelyke skole aangebied. Ons hou jaarliks ‘n rondomtalie-reeks atletiekkompetisies wat om die beurt deur die skole aangebied word. Dis lekker kompeterend – op die baan en ten opsigte van die aanmoediging langs die baan. Die klem is op deelname en selfs die ouers hardloop ‘n aflos aan die einde van elke byeenkoms. Rugby, netbal en krieket word ook gespeel. Benewens die amptelike skoolaktiwiteite sorg ouers dat daar ook ander individuele deelnames (bv gimnastiek) en spansporte soos pluimbal gespeel word. In Maart 2010 het ons op die Pilditch-stadion die Indicato Uitnodigingsbyeenkoms aangebied en in die wintermaande al twee landlope gehou. KULTUUR Laerskool Raslouw se leerlinge het ook al goed presteer met voordragte, spreekkore, instrumentale musiek en sang in die Pretoria Eistedfodd en ander kunsfeeste; ook in die eksterne redenaarskompetisies bewys van ons leerlinge dat die interne kompetisie se standaard hoog is en hulle ‘n gesonde voordeel gee om na buite deel te neem. Die koor se eerste optrede in Maart 2009 is met staande applous en encores verwelkom. Van ons leerlinge se gedigte is opgeneem in ‘n digbundel van die GHA. Die 90%-punt vir die toneelstuk in 2002, “Japie Greyling” wat volledig saamgestel en afgerig is deur ons personeel, en waarin ons eie leerlinge al die rolle gespeel het, was bewys van die gehalte waarmee CVO Skool Verwoerdburg, soos dit toe bekend gestaan het, kan optree. Die skool se sierwa vir die Van Riebeeckfees 2002 (350-jarige herdenking) het die eerste prys as algehele wenner behaal. Dit was ‘n spanpoging tussen ouers en onderwysers, terwyl leerlinge ywerig met plakwerk gehelp het. |
|||
|




