Die skool het in Januarie 2000 as laerskool geopen. Dit was seën op byna twee jaar se beplanning en werk vooraf. Die Raslouw skole bedien tans leerlinge van kleuter tot Graad 11 en DV tot Graad 12 vanaf 2011.
Die laer- en die hoërskool het elkeen ‘n toegewyde groep onderwysers, wat elkeen as individue en tegelyk as span, verseker dat onderwys op ‘n hoë standaard bly. Kinders se individuele vordering en probleme word deur hierdie kundiges raakgesien, en ouer en onderwyser bou saam aan die kinders se kennis, vaardighede en karakter.
Voorskools is daar ‘n kleuterklas (3 – 5 jariges) en ‘n Graad0-klas, elkeen met eie onderwysers.
GRONDSLAG EN BEGINSELS
Die skole se geloofsgrondslag word bepaal deur die Drie Formuliere van Eenheid (Heidelbergse Kategismus, Nederlandse Geloofsbelydenis en Dordtse Leerreëls).
Lees gerus die Grondslag en Beginsels van Laerskool en Hoërskool Raslouw. Die kurrikulumstelling by Indicato beskryf die uitgangspunt van ons onderwys.
ONDERWYS

Ons bied vakonderwys aan, sonder dat ons nog ooit aan enige Kurrikulum 2005 of UGO toegegee het. Dit maak ons skole uniek in Suid-Afrika. Leermateriaal word gereeld bekyk en toepaslike boeke aangekoop om die skool se leerplanne en die onderrig daarvan uit te voer. Die skool beklemtoon formele klasonderrig, met lesings, inoefening, toetse en eksamens.
Elke klas het sy eie onderwyser. Grade word nie gekombineer nie. Die aanbieding en kurrikulum is volledig Afrikaans en onder eie beheer en voorskrifte tot Graad 7. Vanaf Graad 8 word Cambridge IGCSE aangebied, gevolg deur Cambridge AS in Graad 11 en 12. Tot aan die einde van Graad 8 word geskiedenis en aardrykskunde naas die hoofvakke met ‘n eie kurrikulum aangebied, met die klem op die kerkhervorming en ons eie geskiedenis.
MUSIEK IN DIE ONDERWYSAANBIEDING

Die Raslouw skole het ‘n voltydse musiekonderwyseres wat klasmusiekperiodes aanbied, asook blokfluit-, klavier en klawerbordlesse. Sy rig ‘n junior sanggroep en die senior koor af.
Die blokfluitlesse word in groepies aangebied om meer leerlinge geleentheid te gee. Dis ewe gewild onder seuns en dogters. Die klavier- en klawerbordlesse word individueel gegee en kitaargroepies begin nou vorm.
POSTE BESKIKBAAR
ENGELS (eerste taal): Onderwyser om Engels (eerste taal) (Cambridge) aan te bied …. ‘n voltydse aanstelling is gemaak en die Engels (eerste taal) word DV vanaf Oktober 2010 in parallel met Engels (tweede taal) aangebied.
VAKONDERWYSERS – met die toevoeging van Graad 12 in 2011 is daar behoefte aan nog vakonderwysers. Daar is deeltydse en voltydse opsies. Vakkundigheid is ‘n streng vereiste, dus sal dit waarskynlik persone wees met BSc of BCom met onderwys- of tersiêre doseer-ervaring wat suksesvol kan aansoek doen vir die aanbied van Fisika, Chemie, Biologie, Rekeningkunde, Ekonomie vir twee tot vier grade vanaf graad 7 – 12.
Ervaring van CIE sal ‘n aanbeveling wees.
Meer inligting beskikbaar by navrae@raslouwskool.o.za of stuur u CV en die aansoekvorm na aansoeke@raslouwskool.co.za
OUERBETROKKENHEID
Oueraande word kwartaalliks gehou nadat die rapporte uitgedeel is. Onderwysers kontak ouers deurlopend as daar iets by ‘n leerling gesien word wat vashaak, sodat dit betyds, maklik en vinnig aangespreek word. Terwyl die vakonderwysmetode juis nie van die ouer verwag om die onderwyser se onderrigwerk in die middae te doen nie, is daar geleentheid vir skakeling om die ouer wel te betrek as die kind ‘n stukkie besondere aandag nodig het nog lank voordat ‘n probleem opbou.
Die ouergroep het ‘n vriendskapband, gebind deur die gemeenskaplike doel om kinders bekwaam te maak vir hulle lewe. Die Funksiekomitee is ‘n voorbeeld van entoesiastiese ouers wat lekker saamwerk om die sosiale kant, en fondsinsamelings vir die ekstras by die skool, te hanteer.
Laai die aansoekvorm hier af om by Laerskool of Hoërskool Raslouw in te skakel. (Aansoeke vir die kleuterklas gebruik die vorm vir die laerskool).
