Tydens die opedag van 29 Mei 2010 is daar lekker gesels. Dis duidelik dat die waarde van privaatonderwys deur al hoe meer mense ingesien word. Ouers raak toenemend meer bewus van onderwysaangeleenthede en dit was aangenaam om konstruktief daaroor te gesels.
Van die vrae wat na vore gekom het:
-
Kan die leerling in die middel van die skooljaar na Laerskool Raslouw skuif? Ja, leerlinge het dit al suksesvol gedoen en waar nodig, word oorbruggingslesse aangebied. Die onderwysers se vermoë om in elke geval elke leerling in die klas raak te sien, vergemaklik die oorbrugging. Met die ouers se samewerking is die inskakeling meestal glad.
-
Het elke graad sy eie onderwyser? Ja. Tot by graad 3 het elke graad ‘n eie klaskamer en onderwyser, en van graad 4 af word vakonderwys gegee, steeds afsonderlike per graad per vak in ‘n eie klaskamer.
-
My kind is tans in ‘n oulike kleuterskool: moet hy/sy graad 0 daar voltooi? Laerskool Raslouw se graad 0-klas was nog altyd ‘n integrale deel van die skool waarin dit die voorbereiding is en die geleentheid is om die leerling se gereedheid vir graad 1 waar te neem, en soms die nodige aandag betyds te gee. Die graad 0′e wat saam graad 1 toe skuif, se sosiale aanpassing in die eerste weke van graad 1 is natuurlik ook makliker. Dit word aanbeveel om die leerling so vroeg moontlik in Laerskool Raslouw se geskakelde benadering (van kleuterstadium af) te plaas.
-
Hoekom verwys Laerskool Raslouw na “Graad 0″ en nie “Graad R” nie? Die “R” staan vir die Engelse woord “Reception”. Ons Afrikaanse trots bepaal dat ons die benaming “Graad 0″ behou het vir die klas wat Graad 1 voorafgaan.
-
Hoeveel take doen die leerlinge in Laerskool Raslouw? Een of twee per jaar. Ons onderwysmetode is vakonderwys met lesings en oefeninge. Veral in die laer grade is daar baie klaswerk en min huiswerk – kinders moet tyd hê om te speel!
-
Wat word bedoel met vakonderwys? (1) Die leerlinge word deur die onderwyser geleer, gehelp en geoefen. Die sigbaarste verskil met Kurrikulum 2005/UGO is dat die leermetode van vakonderwys lesings en oefening is, en nie gedurige take nie. Die kind moet hard werk in die skool, en as dit nodig is, sinvolle huiswerk doen en vir die res van die middag buitemuurse dinge doen en ook tyd hê vir speel en kindwees. (2) Vakonderwys struktureer volgens die vak en bou kennis stelselmatig op. Die vak se vereistes bepaal die aanbieding (en word nie deur leerareas verwar en verwater nie).

