LAERSKOOLONDERWYSERS

Die laerskoolpersoneel is ‘n opgeleide span onderwysers met baie ervaring (en baie energie). Voor is mev Charmain Harmse (adjunkhoof: laerskool) en mnr Danie Bosman (skoolhoof). Mev Harmse gee net Engels vir senior-primêr sodat sy in kontak met die onderwys bly, maar die bestuur en gehaltebeheer van die laerskoolonderwys behoorlik kan aandag gee. Sy ken die skool van die begin af in 2000, toe sy en mev Nicolene Broekman (tweede van links, agter) die eerste ses leerlinge begin onderrig het.

Saam met die kleuterskool het sy reeds 67 leerlinge onder haar administrasie. Die naskool, onder leiding van mev Sonja Venter (ook ‘n opgeleide onderwyseres), is smiddae op die laerskoolterrein.

Van links na regs agter staan mevv Alida van der Dussen (kleuterklas-assistent), Nicolene Broekman (senior-primêr wiskunde, wetenskap en Bybel), Christa Kruger (kleuters), Magda J van Rensburg (Graad 0), Corinne Botha (Graad 2), Adri Peenz (senior-primêr Afrikaans en aardrykskunde), mej Naomi Hamman (Graad 3) en mev Sandra Mattheus (Graad 1).

Nie op die foto nie: mej Natalie Keet gee geskiedenis en liggaamsoefeninge, terwyl mev Linette J van Rensburg klasmusiek, blokfluit, klawerbord en klavierlesse aanbied.

Juffrou Corinne organiseer skaak vir die hele skool, en haar entoesiasme maak dit ‘n gewilde aktiwiteit. Mev Peenz organiseer die redenaars en mev Harmse reël die jaarlikse Engelse Speech Festival. Redenaars en Speech Festival is verpligtend in die klas, en die wat deurdring, gaan na die skool se kompetisie-aande en leer so om hulleself sinvol uit te druk in die openbaar. Juffrou Linette betrek laer- en hoërskool saam vir koor en vir operette, benewens die deurlopende musiekklasse op die rooster.

Die atletiek en ander sport word deur juffrou Sandra en juffrou Naomi bestuur. Dis tans atletiekseisoen en daar word geoefen met die oog op die laaste byeenkoms van die jaarlikse drieledige kompetisie (DV 6 Maart 2010).

Die klem val in die laerskool op lees, skryf en reken. Vakonderwys met lesing en demonstrasie, inoefening, en vanaf Graad 4, toetse en eksamens, en in al die grade word drilwerk gedoen waar dit sinvol is. Junior-primêr gebruik werksboeke waar dit toepaslik is, maar vanaf Graad 4 (begin van senior-primêr) word handboeke en skrifte gebruik sodat leerlinge leer om verby die invulwerk te kom en self te formuleer en te skryf. Daar word ook geknip, geplak en in die hoër grade wetenskapeksperimente gedoen. Bybelonderrig word as vak gegee. Alles gewone, stewige onderwys.

Laerskool Raslouw het nog nooit Kurrikulum 2005 of UGO gedoen nie, en was nog altyd voluit skool (nie ‘n leersentrum of ander vorm van semi-tuisskool nie) met ‘n onderwyser voor elke klas, hoofde, formele skooldrag en duidelike dissipline. Hoe vroeër leerlinge in hierdie vakonderwys ingebring word, hoe makliker skakel hulle in by die hoërskool, wat by ons in Graad 7 begin om ‘n oorgangsjaar te wees vir wanneer hulle vanaf Graad 8 in die Cambridge-werk ingelei word. Dis die skool vir akademiese opleiding wat waarde het.

This entry was posted on Wednesday, February 24th, 2010 at 10:32 am and is filed under Algemene Kategorie. You can follow any responses to this entry through the RSS 2.0 feed. Both comments and pings are currently closed.

Comments are closed.