HOËRSKOOLONDERWYSERS

Mnr Danie Bosman (skoolhoof) (Biologie) sit by sy lessenaar, met mnr Piet Schoeman (adjunk-hoof: hoërskool) (Wiskunde) links. Langs hom staan mev Sandra Brits (Engels), mejj Natalie Keet (Geskiedenis, Aardrykskunde), Juanita Venter (Wiskunde, IT, Afrikaans) en mevv Hanlie Meyer (Skei-nat) en Martie Perold (Afrikaans). Mev Carina van der Dussen (Rekeningkunde en Ekonomie) is agter die kamera. Hierdie dinamiese span hanteer tans Graad 7 tot Graad 11.

Vakonderrig word in ‘n ontspanne maar gedissiplineerde klasatmosfeer aangebied, waar die leerling by die leermeester(es) leer met baie geleentheid vir oefening, herhaling waar nodig en veral om van buite die handboek tot binne-in die handboek die volle liefde en omvang van die vak te leer. Die onderwysers is elkeen in eie reg gekwalifiseer (bv BEd, BSc, BCom), en baie ervare om hulle vakke te onderrig met ‘n gesonde mengsel van onderwys- en praktykervaring.

CVO Skool Verwoerdburg is ‘n hoofstroomskool (nie ‘n leersentrum of ‘n ander soort skoolgaan wat die naam skool misbruik, maar waar “leerders” eintlik maar self moet studeer en oefen nie). Dit word van elke onderwyser vereis om vooruit voor te berei, vaklêers in stand te hou en die toets- en eksamenproses is gestruktureerd word gemodereer. Die onderwysers wikkel daarby die leerlinge met eie ervaring, bykomende vakkennis en om bykomend tot die noodsaaklike leer van kennis, die begrip van die vak – om self daaroor te kan dink en te redeneer – onder die knie te kry.

EN DAN IS DAAR OOK NOG:

Bybelonderrig word by die hoërskool in groepsklasse gehanteer: Vrydae bied ds Petrus Venter (van die Gereformeerde Kerk Pretoria (dolerend)) voor pouse ‘n dinamiese klas aan waarin die amp van die gelowige, kerkwees en belydenis van die Bybel behandel word, en na pouse Bybelkennis. Die periode voor pouse maak voorsiening om leerlinge se vrae oor allerlei geloofsake en van die ideologieë waarmee hulle in aanraking kom, te behandel. Hulle handig dit anoniem op skrif in by die hoof as hulle dit so wil doen, en dit word dan in die klas geloofswetenskaplik en volgens belydenis hanteer.

Mev Linette J van Rensburg, oftewel “juffrou Linette”, is die skool se voltydse musiekonderwyser. Sy bied klasmusiek aan, gee individuele klavierles waar dit vir leerlinge op die skoolrooster ingepas kan word, en sommige soggens vroeg voor skool, blokfluitlesse op soortgelyke grondslag en doen koorafrigting, tesame met ateljeekonserte en die operette wat vir Septembermaand beplan word. Sy benut die kultuurperiodes wat by die laer- en die hoërskool onderskeidelik hiervoor ingerig is, terdeë – en die leerlinge voeg by hulle stywe akademiese program ‘n waardevolle musiekopvoeding terwyl hulle net nie anders kan as om dit saam met hierdie dinamiese musiekjuffrou te geniet nie. Die koor se eerste optrede onder haar leiding verlede jaar, is met staande applous en ‘n dubbele encore verwelkom!

Sportoefeninge word gereël vir net na skool, en soms ook op Saterdagoggende. Tans is die atletiekseisoen in volle swang, en dit was veral die hoogspring wat vanjaar ‘n hupstoot gekry het. Die o/16-seuns hoogspring was op die afgelope Saterdag (6 Februarie 2010) se byeenkoms ‘n hoogtepunt wat uiteindelik tussen twee Verwoerdburgers en twee jongmanne van Volkskool Brakpan uitgestoei is met baie applous en sugte soos wat die lat hoër geklim het.

This entry was posted on Tuesday, February 9th, 2010 at 4:00 pm and is filed under Algemene Kategorie. You can follow any responses to this entry through the RSS 2.0 feed. Both comments and pings are currently closed.

Comments are closed.