Die Cambridge-eksamens is wêreldwyd bekend en word internasionaal erken. Van ons buurstate soos Botswana se nasionale onderwysstelsel berus op die diens wat Cambridge bied en hulle nasionale kwalifikasies vir skool is dus Cambridge. Hierdie kwalifikasies word deur die universiteite in Suid-Afrika ook erken, en van hulle publiseer alreeds tabelle hoe dit vergelyk en omgeskakel word met die TPT (M-tellings) wat in die Suid-Afrikaanse staatsgedrewe onderwys geld. Die erkenning spoel oor na ander tersiêre opleiding. Deur ‘n Cambridge-eksamen af te lê, word ‘n kwalifikasie verwerf wat vanuit die Europese konteks kom en eerder hoër standaarde as die dalende standaarde van Suid-Afrikaanse onderwys reflekteer. Dit gee ‘n geleentheid wat fokus op onderwys en die ideologie van Kurrikulum 2005 nie net omseil nie, maar heeltemaal vermy – om by CVO Skool Verwoerdburg se produklewering uit te kom: gehalte onderwys! Ons onderwys in die laerskool is volledig Afrikaans, onder ons eie beheer met die kurrikulumontwikkeling wat steeds onder ons eie beheer voortgaan die beproefde onderwysmetodes wat fokus op lees, skryf en reken. In die hoërskool se juniorfase is die onderrig volledig Afrikaans, maar word die Engelse terminologie nadergetrek, en ‘n klein persentasie Engelse toetsing en eksaminering ingebring. Die senior-sekondêre fase is steeds onder Afrikaanse onderwysers se sorg, want die skool se grondslag en beginsels verander nie, maar word met dosisse Engelstaligheid aangebied en uiteindelik word leerlinge voorberei om die Engelse Cambridge-vraestelle af te lê. Cambridge bied meer vryheid, opsies en vlakke en beter strukturering en is dus bruikbaar in die skool se strewe na onafhanklike onderwys (vry van kommunistiese staatsinmenging) terwyl dit erkenning geniet staatkundig en in die industrie. CVO Skool Verwoerdburg se werk aan die deurbring van ‘n kurrikulum in Afrikaans onder Afrikanerbeheer gaan onverpoosd voort. Intussen leer ons by die Engelse hoe leerplanne en eksamens in ‘n eerste wêreldse land gedoen word, en word ons nie oor en oor besig gehou met die onderwysdepartement se gedurige wysigings van planne en hoef ons nie Kurrikulum 2005 se ideologieë te omseil nie – ons gaan gewoon voort met ware onafhanklike onderwys!
