Onderwys wat waarde het – OPEDAG

Dink weer oor onderwys vir die massas teenoor onderwys wat kinders werklik oplei en bemagtig vir hulle toekoms.

Saterdag, 2 Junie 2012 is ons DV van 8 – 12vm by die skool, en gereed om vir u te wys wat ons doen, hoe ons skoolgaan, en hoekom leerlinge elke dag self wil skool toe gaan.

Gaan na die Raslouw Woeries se Facebook-bladsy en kyk sommer nou dadelik wat ons doen.

Kom gesels met ons om uit te vind wat die verskil is tussen om net skool te gaan, en om waarde uit die skooldag te haal.

Om skool te gaan moet nie net ‘n gewoonte wees nie:

• Dit moet lekker wees
• Dit moet waarde hê
• Dit moet ‘n toekoms skep

Met die Indicato-kurrikulum word onderwys met waarde aangebied, en die hoërskool loop uit op kwalifikasies van Cambridge International Examinations (CIE) wat geloofwaardig is, plaaslik en internasionaal. Die aanbieding word as geheel bestuur, sodat leerlinge wat in Laerskool Raslouw hulle fondament kry, Cambridge suksesvol kan aanpak.

Die skool word in die volgende fases bestuur:

1. Voorskools – Kleuters vanaf 3 jaar, tot Graad 0
2. Laerskool – Graad 1 -3 (junior primêr) en Graad 4 – 6 (senior-primêr)
3. Hoërskool – Graad 7 – 8 (oorgangsfase); Graad 9 – 10 (IGCSE) en Graad 11 – 12 (AS)

Die hoërskool word van onder af opgebou, en in 2013 sal dit net tot Graad 8 gaan.

Die skool word bestuur om leerlinge in die 21ste eeu te bemagtig, wat begin deur waarde in die akademiese opleiding te verseker. Dit moet aangebied word in die konteks van ‘voluit skool’ te wees en dit verklaar hoekom ons:

• ‘n Voltydse musiekonderwyseres het
• Liggaamsoefeninge deur ‘n kinderkinetikus laat aanbied
• Fiksheidsoefeninge en balvaardighede deurlopend aanbied
• Rekenaarvaardigheid op die skool se rekenaars met die nuutste programmatuur aanbied
• Redenaarskompetisies op ‘n hoë peil aanbied (en daar benewens die Afrikaanse aanbieding, ook ‘n Speech Festival is om die vermoë om in Engels regop te staan, te kweek)
• Sportbyeenkomste aanbied
• Dissipline konsekwent en konstruktief opbou en handhaaf
• Bybelonderrig aanbied
• Eksterne aanbiedings by die skool aanmoedig, soos sanglesse en ballet
• Die Allegro-klub benut om leerlinge help om by kunstefeeste en eisteddfods in te skryf, en in samewerking met die onderwysers en eksterne aanbieders, afrigting te doen.

Raslouw Onderwys se produk is voluit skool en bied die geleentheid vir leerlinge wat opleiding wat waarde het vir hulle toekoms wil hê.

Artikel geplaas deur Leonard van der Dussen op 11 May 2012 onder Algemene Kategorie • Geen kommentaar

Welkom by die Raslouw Woeries in 2012

Ons sien by Laerskool Raslouw na ‘n besige en lekker jaar uit. Die inskrywings wys dat ouers toenemend besef hoe belangrik die gehalte van onderwys is.

Van die kleuters (beginnende by 3 jaar oud) tot die Graad 7′s gaan hierdie jaar weer baat by die stabiliteit van ons onderwysaanbieding wat die fokus op sterk basiese vaardighede hou, leerlinge in die natuurwetenskappe inlei, die Geskiedenis en Bybelkunde nie afskeep nie, en skoolgaan se waarde afrond met sport, musiek en ander buitemuurse bedrywighede.

Die junior primêr (graad 1 – 3) en senior primêr (graad 4 – 6) aanbieding gaan voort op die basis wat in die afgelope jare gestabiliseer is.

Terloops, dat leerlinge al van kleutertyd af aan Engels blootgestel word, en van Graad 1 af aktief vaardighede daarin leer, is vir ons niks nuuts nie. Laerskool Raslouw het dit van meet af aan al ingewerk in sy kurrikulum en ons skooltye hoef nie aangepas te word soos vir die staatskole onlangs aangekondig is nie. Ons bied al lank reeds jaarliks naas ‘n redenaarskompetisie in Afrikaans, ‘n “Speech Festival” aan waaraan leerlinge van jongs af deelneem.

Die Graad 7′s maak in 2012 die eerste versigtige skuif na hoërskool toe. Hulle gaan voort met die kernvakke (Afrikaans, Engels en Wiskunde) en gaan ingelei word in ‘n wye reeks vakke en konsepte, en onder andere handel en tegnologie, wat ‘n vars benadering van bekendstelling aan toekomstige rekeningkunde asook die inligtingstegnologie en rekenaarwêreld asook ontwerp (tegniese tekeninge en meer) behels. Hulle gaan meer bewus word van die wonders van fisika, chemie en biologie, met ‘n skoot aardrykskunde, geskiedenis daarby, terwyl die Bybelkunde voortgesit word. Die klasmusiek en LO (liggaamsoefening) rond die aanbieding af en dit alles maak skoolgaan lekker en volledig. Hulle aanbieding neem in ag dat hulle vanaf graad 8 met die IGCSE (Cambridge) vakke moet begin en hulle word daarvoor voorberei.

Ons is bly dat mev Salomé Visagie (Afrikaans en Biblioteek) en dr Abie van Wyk (fisika en chemie) as deeltydse onderwysers aanbly vir die Graad 7-aanbieding. Juffrou Salomé gaan ook vir die res van die laerskool die biblioteekperiodes aanbied en ons vinnig groeiende biblioteek aktief uitbou.

Op die personeelfront verwelkom ons ‘n bykomende permanente personeellid, mnr Pierre-Uys Hoffman (B.Ed (Hons)). Ons hoop hy en sy gesin gaan gou tuisvoel tussen die Woeries. Hy wil graag sy entoesiasme vir die klaskamer en vir sport aan die leerlinge oordra.

Die liggaamlike opvoedingskant word vanaf 2012 verder gevat met ‘n eksterne kinderkinetikus wat die LO (liggaamsoefeninge) weekliks by die skool kom aanbied. Die LO is reeds deur ons huidige personeel gevestig, maar dit het waarde om die gespesialiseerde kennis van die kinderkinetikus te benut vir stadskinders wat toenemend gehelp moet word om fiks en sterk te word in ‘n omgewing waar kinders nie meer vrylik in die strate en die oop stukkies veld kan rondhardloop en speel nie.

Met nege voltydse onderwysers, ‘n voltydse musiekonderwyseres, twee deeltydse onderwysers, ‘n voltydse skoolsekretaresse asook die kinderkinetikus en die ondersteuningspersoneel van Indicato is die skool gerat vir nog ‘n jaar van lees, skryf en reken, sport, musiek, redenaars en sommer baie pret!

(Doen navraag by navrae@raslouwskool.co.za of vra vir ‘n kopie van “Krummels” (die laaste uitgawe van 2011 is propvol inligting en voorbeelde van die werk van leerlinge van Laerskool Raslouw)

Artikel geplaas deur Leonard van der Dussen op 2 January 2012 onder Algemene Kategorie, Argief • Geen kommentaar